Die Estlanders (Estnies: eestlased) of Este is 'n Fins-Oegriesenasie en etniese groep inheems aan Estland wat 'n gemeenskaplike Estniese afkoms, kultuur en geskiedenis deel, en Estnies as moedertaal praat. Alternatiewelik is Estlanders diegene wat in Estland woon of in Estland gebore is.
Estlanders vorm die titulêre nasie van Estland, waar hulle sowat 69% van dié land se bevolking uitmaak. Naas Estlanders leef nog minderhede soos Russe (25%), Oekraïners (1,7%) en Wit-Russe (0,9%) in Estland; 'n historiese minderheid vorm die Baltiese Duitsers wat na die Tweede Wêreldoorlog veral in Duitsland gevestig het. Behalwe vir Estland kom Estniese minderhede nog in Europese lande soos Finland (0,8%) en Swede voor, maar verreweg die meeste Estlanders woon in Estland.
Wêreldwyd leef sowat 1 miljoen Estlanders, waarvan 907 937 in Estland, 50 367 in Finland, 25 509 in Swede, 24 694 in die Verenigde State en tussen 23 180 en 50 000 in Kanada. Daarbenewens het Estlanders nog in lande soos Rusland (17 875), die Verenigde Koninkryk (14 000) en Frankryk (12 590) gevestig.